Oom Herrie se kerrie: Oom Herrie word soort van ’n parolie

Argieffoto (Foto: TiBine, Pixabay)

Die land ken droogtes, erge droogtes, maar so iets soos die Wes-Kaap nou beleef, is iets ysliks. En oom Herrie dink nie net aan Kaapstad nie, maar ook die boere wat sien hoe hul skaars besproeiingswater al meer vir Kaapstad afgetap word.

Oom Herrie voel veral omdat sy oudste ’n bestuurder op ’n vrugteplaas naby die Paarl is.

In die Vrystaat is daar dorpe waarvan die krane al lankal droog is, of byna altyd droog is. Die droogte kan seker deel van die skuld kry, maar die groot probleem is wanadministrasie en wanbetaling, sodat dit erbarmlik op dorpe soos Brandfort en Fauresmith gaan. Maar die regte droogte bring ook sy ontberings, en soms af en toe ’n bietjie humor.

Iewers in die Karoo besluit die kerkraad om die droogte te benut om die kerkdak, wat gelek het (dis nou as dit die slag reën) te laat regmaak. Tenders word uitgesit, en een tender is ver minder as die ander. Die tender word voorwaardelik aanvaar op voorwaarde die dak moet die eerste groot storm deurstaan.

Dit is vir die mense vreemd dat die man elke dag so op die hitte van die dag in die dak klim, en ’n ruk later weer uitklim. Geen gehamer en getimmer word ooit uit die dak gehoor nie. Op ’n dag klim hy uit die dak en verklaar dat die dak nou klaar reggemaak is.

’n Paar Sondae later tydens die oggenddiens bars die moeder van donderstorms los, en dit sous behoorlik. Maar die kerk bly binne kurkdroog. Na die diens word die kontrakteur se tjekkie goedgekeur, uitgemaak en kry die twee handtekeninge.

Die volgende Sondag kom maak daai vorige bui se bielie van ’n boetie ’n draai, en dit sous te heerlik buite, en nie te lank nie, net so heerlik in die kerk. Na die reën verkas het, begeef ’n paar broeders kerkraad hulle in die dak om te gaan kyk wat aangaan. Die hele plafon is vol blikkies gepak – so gepak juis as die son op die hoogste is, en loop oor van die oorvloedige water.

’n Afgetrede generaal het ’n huis nie ver van oom Herrie s’n nie by ’n sielkundige wat op die pastorale gespesialiseer het, aangeskaf. Ook nie lank nie, reën dit in sy huis, en jou werklik, daar staan die blikkies!

Maar van Fauresmith gepraat. Dié plek het mos ’n nou toegang tussen twee koppies, met die pad en treinspoor wat daardeur gaan. Om die waarheid te sê, die treinspoor loop ’n ent in die middel van die hoofstraat. Maar in daai nou inkomplek lê ’n reuse rots waar die sypaadjie moet wees.

Tenders word uitgesit, en ook hier is een baie laer as die ander, en dit word ook voorwaardelik aanvaar op voorwaarde die rots is eers behoorlik verwyder. En dit moet in die nag gedoen word om so min as moontlik ontwrigting te veroorsaak. Die volgende oggend kom haal die man sy tjekkie.

’n Paar verbaasde agbare raadslede gaan kyk, en jou werklik, die rots is skoonveld, en waar hy gestaan het, is daar nie eens vreeslik tekens van ’n gewoel nie. Toe wil hulle weet hoe hy dit reggekry het. Maar die man wil eers nie sê nie – nie tot hy die tjekkie veilig gebank het nie.

“Nee,” sê hy, “hy en sy span werkers het met sy bakkie gekom en ’n gat langs die rots gegraaf. Toe rol hulle die rots in die gat, vul die gat mooi op, en ry die oorblywende grond weg.”

Oom Herrie het verlede week vertel dat hy hospitaal toe gaan vir toetse om te kyk of hy nou eers ’n “vakansiebreek” van die afgelope jaar se chemo kan kry. Die toetse laat inderdaad ’n “vakansie” van drie na vier maande toe, maar streng “paroolvoorwaardes” geld. Oom Herrie moet elke maand omvattende bloedtoetse ondergaan, en die oomblik as dinge lol, word die chemo weer nadergetrek. Die een kanker is in elk geval in remissie; die ander is bietjie taai.
Maar, soos die dokter sê, op oom Herrie se lêer is geskryf “guns”, want oom Herrie het guns by die Here ontvang om na twee jaar al soveel beter te wees.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment