Nuwe politieke skikking oor Afrikaans nodig

foto: Philip Robinson

foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson
foto: Philip Robinson

Die behoud van Afrikaans as onderrigtaal kry vanuit regerings-, regs- én universiteitskringe om verskeie redes al hoe meer die wind van voor.

Kundiges meen ’n rits argumente en persepsies (waarvan heelparty nie gronde het of selfs grondwetlik is nie) word voorgehou waarom Afrikaans nie as onderrigmedium meer bestaansreg het nie. Dié argumente en persepsies is egter nie genoeg rede om die stryd vir die behoud en voortgesette erkenning van Afrikaans as hoëfunksietaal op te gee nie.

AfriForum en Solidariteit het vandag op ’n konferensie in Centurion verduidelik waarom hulle as burgerregte-organisasie én vakbond by hofaksies betrokke is.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dit is belangrik dat die howe uitsluitsel oor dié kwessie moet gee aangesien daar sedert 2006 talle gespreks- en konsultasiegeleenthede met verskillende rolspelers was wat nie die gewenste uitwerking gehad het nie. “Alle moontlike kanale is gevolg om Afrikaans aan universiteite te behou en uiteindelik het ons net lippediens van universiteitsowerhede gekry.”

Sy het gesê daar is talle voorbeelde waar universiteite tans studente se reg op onderrig in Afrikaans misken en selfs sover gaan om hulle te dreig indien hulle nie in Engels wil studeer nie.

Bailey het verduidelik dat daar veral verlede jaar ’n anti-Afrikaans-tema op kampusse ontwikkel het wat die verengelsingsproses net vinniger gemaak het. Sy het gesê in hofsake hou sekere regslui demografiese en globaliseringsverskynsels vir die afskaffing van Afrikaans voor, terwyl ander werklikhede soos die voordele van moedertaalonderrig, die akademiese en ekonomiese waarde daarvan en die feit dat dit juis vir meer studente toegang gee, geïgnoreer word.

Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het verduidelik dat die vakbond ook tot die stryd toegetree het omdat hulle lede by universiteite verteenwoordig wat hul stem hieroor wil laat hoor.

Volgens Kruger is dit duidelik dat die #feesmustfall-protes verlede jaar in #Afrikaansmustfall verander het en dat daar ’n politieke spel gespeel word om Afrikaans af te takel. “Ons het sonder twyfel met vyandige regslui te doen wat argumente opper wat teen die bevordering van meertaligheid indruis. Die afskaffing van Afrikaans sal meer segregasie en rassespanning in die hand werk as wat hulle bereid is om te erken.”

Kruger het die hoop uitgespreek dat daar uiteindelik ’n redelike uitspraak in die Konstitusionele Hof sal wees as die stryd tot daar gevoer moet word.

Werner Human, regsverteenwoordiger vir AfriForum, het op sy beurt verduidelik dat derduisende studente aan die universiteite van Stellenbosch, Pretoria, die Vrystaat en by Unisa, in Afrikaans wil studeer. Dié studente moet bemagtig word om in die toekoms op hul regte aan te dring.

Human het verduidelik dat die transformasie-imperatief in die meeste universiteite se regsargumente voorgehou word as die rede waarom Afrikaans afgeskaf moet word. “Die kern van die argument is ‘gelyke diskriminasie’ wat daarop neerkom dat Afrikaans nie sy bevoorregte posisie mag behou nie, maar eerder tot op dieselfde vlak as ander inheemse tale afgebring moet word. In dié argumente word al die ander positiewe argumente asook die grondwetlike reg tot moedertaalonderrig ondermyn.”

AfriForum en Solidariteit is tans in hofsake met UP, Kovsies en Unisa gewikkel.

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit, het gesê Afrikaans moet binne die groter prentjie in die land vandag gesien word. Daar is die staat met korrupsie, bedrog, verval en ’n transformasie-ideologie aan die een kant en minderhede, diversiteit en kulturele regte aan die ander. Die ANC-ideologie is dat die hele land en al die sektore daarvan die land se demografie moet verteenwoordig, terwyl minderhede se regte al hoe meer ondergeskik en minder belangrik geag word. Die regering gee ook net lippediens aan meertaligheid en het geen politieke wil om dit te bevorder nie. “Gewone mense wil hul tale praat, maar amptenare wil nie. Een van die redes waarom die ANC waarskynlik soveel klem op Engels plaas, is die vrees vir etniese versplintering wat kan ontstaan. Daarom wil die ANC hê almal moet ANC word waar daar nie plek vir kultuur of etnisiteit is nie.”

Eloff meen Afrikaners is op hul eie en kan niks van die regering verwag nie. Sy advies is dat die stryd vir die behoud van die taal op alle terreine gevoer moet word. Alles moontlik moet gedoen word om die taal en die gebruik daarvan in openbare ruimtes te bly verseker, terwyl voortgegaan moet word om private onderriginstellings op die been te bring.

Volgens Eloff is ’n nuwe, inklusiewe gesprek ook met die nuwe ANC-leierskap oor Afrikaans nodig waar ’n politieke skikking bereik kan word en dié stem van wit, bruin en die 600 000 swart Afrikaanssprekendes ook gehoor kan word.

The post Nuwe politieke skikking oor Afrikaans nodig appeared first on Forum Nuus.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment