Die Curriebekerreeks: dit kan mos nie waar wees nie?

Dit was nog altyd een van jou onthou-oomblikke, wanneer jy jou verjaarsdag- of Kersgeskenkpakkies oopgemaak het.

ʼn Blinknuwe motor, ʼn rugbybal, krieketkolf, tennisraket of ʼn sakkie albasters.

Jou ou speelgoed word op die rak geplaas, hulle is dalk stukkend en word straks nooit weer gebruik nie.

Dis presies wat met die Curriebeker gebeur het. Sy tyd is uitgedien, die goue glans het verdof, die reeks word jarelank al afgewater …

Rêrig?

Word daar so gou van jarelange tradisies vergeet? Van die bloed, sweet en trane wat gestort is, van die Westelike Provinsie se goue jare, die Blou Bulle se oorheersing? Gaan ons so gou vergeet van Griekwas se sege oor Noord-Transvaal in 1970? Wat van Natal se skokoorwinning in 1990 oor Noord-Transvaal op Loftus?

ʼn Stampvol Loftus, Ellispark, Nuweland, Kingspark of die Vrystaat-stadion?

Maar die aandag het verskuif. Die kollig val ewe skielik op die Pro14-reeks waaraan die Cheetahs en Southern Kings van Vrydag af in die Noordelike Halfrond deelneem.

Hoe dan anders? Unies is bankrot en/of trek swaar.

Die Westelike Provinsie is in die midde van ʼn regsgeding, die Blou Bulle gaan werknemers aflê, die  Goue Leeus se span wat in die Curriebekerreeks teen die Pumas speel se agterlyn se gemiddelde ouderdom is net 21 jaar oud,  die Vrystaat Cheetahs moet met hul tweede- en derdespanspelers in die Curriebeker-reeks speel, die Kings ding nie eens in die Premierliga mee nie.

Trouens, die Southern Kings moes spelers van ander unies leen om ʼn mededingende span vir hul aanslag in die Pro14-reeks bymekaar te skraap.

Ja, ons kan nie net in die verlede leef nie. Daar moet vernuwing wees, maar ons moet pasop dat ons in die proses nie ons vingers verbrand nie.

Stof die Curriebeker maar gereeld af,  dis tog waar die Bokke van môre ontdek en geslyp word.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment