‘Die Afrikaner’ se begrafnisbrief

kruise-grafte-oorloggrafte

Foto: Hhach/Pixabay.com

Rassie van die Noord-Vrystaat skryf:

“Die Afrikaner” is in 1994 ná ʼn lang siekbed oorlede

Tydens sy kinderdae was “die Afrikaner” lewenslustig en baie energiek.

By volwassewording in 1948 was “die Afrikaner” die toonbeeld van gesondheid. Kort hierna het die binnelandse en buitelandse omgewing egter ernstig op sy gesondheid begin inwerk. Die nuwe medikasie wat in 1961 in die vorm van Republiekwording toegedien is, het “die Afrikaner”  beter laat voel, maar dit was slegs ʼn placebo-effek. In der waarheid het dit vinnig slegter begin gaan. Teen die laat 1980’s het die terminale fase ingetree. In 1992 is hy na die waakeenheid oorgeplaas en op lewenssteun geplaas. Die masjiene is finaal op 27 April 1994 afgeskakel.

Oorsake van dood

Die nadoodse ondersoek is nog nie afgehandel nie. Sommiges skryf dit toe aan eksterne faktore. Ander is van mening dat dit interne swakhede en interne bloeding was. Party meen dat dit ʼn mengsel van bogenoemde twee faktore was. Nog andere blameer die dokters wat hom tydens die terminale stadium behandel het en veral daardie wat die masjiene finaal afgeskakel het.

Afhandeling van die boedel

By die afhandeling van die boedel is “die Afrikaner” se kinders meegedeel dat hul praktiese bestaan binne ʼn republikeinse volkstaat onder eie politieke beheer, politieke selfbeskikking in watter vorm ook al asook selfbeskikking oor taal in formele instansies, nie deel van die boedel uitmaak nie.

Daarbenewens is “die Afrikaner” se kinders ook deur sy geestelike leiers meegedeel dat “die Afrikaner” eintlik ʼn groot sondaar was en dat hulle namens “die Afrikaner” sy sondes moet bely.

“Die Afrikaner” se nagelate kinders

“Die Afrikaner” was en streng ouer en het sy Afrikaner-kinders streng volgens sy eie oordeel en ideale grootgemaak. Baie was baie lief vir hom en het gekonformeer. Die wat nie wou nie is deur die ander broers en susters uitgejou en selfs as familielede ontken. Op hierdie wyse was talle van “die Afrikaner” se kinders reeds tydens sy leeftyd van hom vervreemd.

Buite familieverband was “die Afrikaner” nie baie gewild by sy landgenote nie. Hulle het gevoel dat hy hulle benadeel het, dat hy ʼn rassis was en ook kultureel op hulle neergesien het. Hulle het dus almal gejuig by sy dood. Hulle het ook nie werklik simpatie met sy nagelate weeskindertjies gehad nie.

Die weeskindertjies het egter gou getoon dat hul baie uiteenlopende karaktertipes verteenwoordig.

Talle doen hul eie ding en vergeet van “die Afrikaner”.

Sommige vorm groepe.

Sommige groepe vertoon omtrent al die kenmerke van “die Afrikaner”. Andere stig ʼn onverteenwoordigende Familieraad. Nog andere vestig hulself in ʼn spesifieke gebied en nooi ander familielede daarheen uit. Sommiges soek na ʼn geografiese gebied waar hulle outonomie vir die familie kan bewerkstellig.

Party doen egter praktiese dinge wat binne die huidige bestel wettig, moreel aanvaarbaar en prakties uitvoerbaar is. Hierdie laasgenoemde groep gaan moontlik die enigste van “die Afrikaner” se kinders wees wat ten minste die goeie uit sy verlede vir sy nageslag gaan bewaar.

Aftjop Begrafnisdienste wens “die Afrikaner” se nagelate weeskinders sterkte toe vir die toekoms.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment